Welkom by my Web Joernaal / Blog
'n Tikkie skryfwerk was nog altyd iets wat ek geniet het. Dagboek inskrywing, kort storie, gedig of liedjie, woorde het die manier om 'n kragtige prentjie te skep. Dit het ook die manier om dinge uit te klaar. Dit is asof die pen op 'n misterieuse manier helderheid bring wanneer dit in die form van woorde oorgedra word op 'n stuk papier. Ek skryf vir ontspanning en ander kere skryf ek om 'n boodskap oor te dra. Ek gebruik krom woorde en sinne, niks perfek of naastenby op die standaard wat Mnr. Marais dit sou verkies het nie. Laasgenoemde was my Afrikaans onderwyser op hoërskool. (Wonder of hy nog sy badwater drink?)

Perspektief
Perspektief:- Om 'n ma te vra, met 'n kind siek in die bed, of sy spyt is sy het die inenting geweier teen die siekte wat haar kind nou onder lede het.Perspektief:- Om te kla oor jou oud en ongemaklike bed, terwyl 'n man op die hoek van Frans Conradie op die koue teer slaap met 'n bietjie gras as sy kopkussing.
Perspektief:- 'n Jong ma wat kla oor al haar baba vetjies, terwyl 'n ander vrou met bewondering toekyk en wens sy het dit wat die mamma het.
Perspektief:- Om skelm jou tuin nat te lei tydens water beperkings, want jy is bang jou mooi tuintjie dood. Dit terwyl mense dehidreer, diere vrek, oeste verlore gaan as gevolg van die water te kort.
Perspektief:- 'n Kind wat kla oor sy ma wat altyd in sy privaatsake in meng, terwyl 'n ander een wens sy ma het nog geleef sodat hy sy privaatsake met haar kon deel.
Perspektief:- Om iemand "op te som" gebaseer op 'n idee wat jy van hulle het, terwyl jy eindelik geen verstaan het van die persoon se lewens storie, seer en struwelinge nie.
Perspektief is die oogpunt waaruit jy na ‘n situasie kyk. Verander jou fokus en sê vir ‘n slag dankie vir dit wat jy het.
Navigeer Terug Na Bo
Dankbaar
Ek stap vanoggend langs die Seepunt promenade. Dit is 'n asemrowende dag. Sonskyndag met minimale wind. Die skepping is mooi. Of in Sy woorde, "dit is goed". Ek word gevul met die waardering van my omgewing, ek sien alles weer opnuut deur 'n nuwe bril. Hoe bevoorreg is ek en jy nie om Kaapstad ons tuiste te noem? Die plek wat toeriste wens om te besoek, is my en jou tuiste? Ek neem 'n oomblik vir dit om in te sink. Ek kyk weer om my en waardeer dit dieper. Soos ek al langs die see stap sien ek 'n veteraan dame in haar rol stoel verby kom. Haar hulp handhaaf 'n stadige pas terwyl die dame die wêreld bekyk. Stil tevrede. Wonder hoe kyk sy na die omgewing? Watter blik het sy op die plek, wat ek vandag net weer kom om te waardeer en te ontdek. Watter herinneringe sweef rond in haar gedagtes? Wat kan sy ons jonger geslag leer? Dankbaar. Dankbaar ek woon hier, dankbaar om dit deur genade te kan sien deur gesonde oë, haar paadjie te kan stap met 'n gesonde liggaam, haar geluide te kan hoor met duidelikheid, haar reuke te ervaar skerp en vars. Die parfuum van my mede stappers te ruik, soos 'n vriendelike wuif, soos hulle verby stap. Ek dink sommer by myself dat elke mens vir my 'n mooi mens word wanneer hulle lekker ruik. Daar is eindelik vir my niks mooier nie. Trek diep asem in. Dankbaar. Navigeer Terug Na Bo
Bepeins
Sand, see, wind, hier is waar my siel rus vind. Die blou van die lug weerspieël in die see, vlinders omhoog en seemeeue wat skree. 'n Plek vol herinneringe van familie tyd. My ma en pa wat stap op die strand, met Nikki se vier pootjies wat hardloop oor die sand. By die kaai sit ons saam terwyl die son oor die water sak. Ons kyk die bootjies vaar, stil te vrede, want ons is almal bymekaar. Met die koms van die nuwe seisoen, sit ek en ouboet hier. Bepeins dit wat was en al die herinneringe hier. Navigeer Terug Na Bo
Boston Koffie
'n Klein skatkis in die hartjie van Boston. 'n Plek waar die gemeenskap bymekaar kom, opvang, skets en ontspan. Net soos haar naam genoot vind jy hier oud en jonk in perfekte harmonie, gevleg in samesyn deur hul liefde vir koffie. Die aroma van koffie in die lug, maak jou welkom voel, net soos die vriendelike gesigte agter die toonbank. Die dekor is vars, net soos die koffie. Die Boston koffie kultuur het woema, is lewendig en modern. 'n Instituut in wording. Kom meld aan by die beweging.
Navigeer Terug Na Bo
Die Strate Van Boston
Die strate van Boston vertel 'n storie wanneer mens so vroeg oggend deur haar stap. Vandag is vullis dag, daar word gekrap vir skatte en bruikbare toebehore deur die trollie brigade. Net 'n blok verder sit 'n man op die sypaadjie en eet dit wat die inwoners van 18de Laan uitgegooi het. Honger. Ek dink by myself hoe honger moet 'n mens wees om ou weggooi kos met smaak te eet. Niemand eet uit 'n drom uit vir die lekker nie. Nee dit is 'n kwessie van oorlewing. Ek besef net die desperaatheid opnuut. Daar is 'n verskil vir my tussen die trollie brigade en die man. Hulle krap want hul wil, hy krap omdat hy moet.
Navigeer Terug Na Bo